Ons Eie - Artikels
|
|
|
|
Artikels
Marktendense ten opsigte van landbouprodukte
Werner Prinsloo en prof Herman van Schalkwyk, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe:
Universiteit van die Vrystaat.
Alhoewel oeste in die 2007/2008-seisoen nie na wense was nie, het landboubesighede
steeds presteer hoofsaaklik as gevolg van goeie pryse. Die winsgewendheid van agribesighede
het die afgelope jaar met bykans 24% gegroei.
Met die elektrisiteitskrisis wat tans heers en die regering wat verbruik met
10% tot en met 2010 sny, is dit duidelik dat ekonomiese groei in Suid-Afrika gestrem
sal word. Die hoër rentekoerse dra ook by tot hierdie scenario.
Die jaar beloof om 'n goeie jaar vir die wêreldekonomie te wees met 'n
geskatte groei van 3,3%. Die groei sal hoofsaaklik in die BRIC (Brasilië, Rusland,
Indië & China)-lidlande plaasvind.
Algemeen
In Australië het die langdurige droogte tot 'n aansienlike afname in uitvoere,
sowel as graanproduksie gelei. Die droogte het verder ook bygedra dat daar 'n
historiese laagtepunt in wêreldoeste was. Die grootste rede vir die lae voorraadvlakke
van die meeste grane en oliesade, is die nuwe vraag na die produkte vir die vervaardiging
van biobrandstowwe. Hierdie aspek het veral 'n groot impak in die Verenigde
State van Amerika (VSA), wat tradisioneel ‘n groot uitvoerder van die meeste grane
en oliesade was. Die impak van hierdie nuwe vraag spoel ook oor na die veesektor
toe, omdat voere nou soveel duurder is.
Alhoewel die wêreldmarkte redelik onstuimig lyk, hou dit tog goeie nuus vir die
boer in. Die wêreldvraag na graan is uitsonderlik hoog as gevolg van 'n hoër
vraag na voedsel en nuwe energie. Weens die groter vraag na voedselprodukte, hoofsaaklik
as gevolg van gunstige ekonomiese toestande in die meeste lande, is produkpryse
soos bees-, hoender-, en varkvleis ook vinnig aan die styg.
Die VSA boere word tans aangepor om selfs meer mielies te produseer en sodoende
word die biobrandstofbedryf ondersteun. Voedselkommoditeite soos mielies, koring,
rys, sojabone en selfs suikerriet kan omgesit word in brandstof. Dit gee daartoe
aanleiding dat voedselkommoditeite en energiebronne soos olie teen mekaar meeding
in die mark. In figuur 1 en figuur 2 kan duidelik gesien word hoe die klemverskuiwing
op mielies geplaas is om aan biobrandstof vereistes te voldoen. Die VSA het 'n
totale ommeswaai in produksie ondergaan. Sojaboonproduksie het stelselmatig afgeneem,
terwyl mielieproduksie drasties toegeneem het. Volgens Graan SA word daar 'n
gemiddeld van een etanolaanleg per week in die VSA opgerig. Dit het reeds 'n
impak op die Chicago Board of Trade gehad, wat weer deurgesyfer het na die Suid-Afrikaanse
markte.

Figuur 1: Oppervlakte mielies geplant in die VSA vir 2007 en verandering in hoeveelheid
geplant vir 2006
Bron: USDA, 2007
Nota: Die onderste syfer verteenwoordig telkens die verandering in aanplantings.
Figuur 2: Oppervlakte sojabone in die VSA vir 2007 geplant en verandering in hoeveelheid
geplant vir 2006
Nota: Die onderste syfer verteenwoordig telkens die verandering in aanplantings.
Bron: USDA, 2007
Die toenemende vraag na voedsel, veral in armer lande, beteken dat daar steeds opwaartse
druk is op wêreldkommoditeitspryse. Volgens die VSA se Departement van Landbou(USDA)
sal dit die derde jaar in 'n ry wees dat die vlak van wêreldgraan in omloop
laer sal wees as 25 jaar gelede. Dit bring mee dat die graanpryse in die algemeen
hoër sal wees hierdie jaar.
Die biobrandstof-era voorspel ook nie net voorspoed nie - verbruikers in ontwikkelende
lande sal aan hoër voedselpryse moet gewoond raak. In Suid-Afrika dra ander faktore,
soos die beweerde samespanning tussen sekere agribesighede, by tot verdere spanning.
Aan die produksiekant sal boere te doen hê met kostestygings in veral die energieprodukte,
elektrisiteit, brandstof en voere. Afhangende van watter styging die vinnigste sal
wees, dit wil sê produksiekoste of produksiepryse en of dit hoë opbrengs- of lae
opbrengsjaar gaan wees, is die potensiaal steeds daar dat negatiewe druk op sommige
produkte se winsmarges kan wees as gevolg van hoër produksiekoste.
Mielies
Mieliepryse het vanaf Oktober 2007 aansienlik begin styg nadat die rand/dollar-wisselkoers
begin verswak het. Die Chicago Board of Trade-pryse het ook sedertdien gestyg, wat
'n addisionele effek op die prys gehad het. As gevolg van drie faktore naamlik
ongunstige weerstoestande, biobrandstof en lae graanvoorrade het die mielieprys
selfs verder gestyg. Die tendens behoort oor die kort termyn so te bly - veral indien
die rand aanhou waarde verloor. Met die droogte in Australië is graanvoorrade selfs
verder geknou. Kleiner oeste in die Europese Unie (EU), VSA, Kanada en Okraïne is
ook aangeteken.
Die gebruik van mielies vir biobrandstof is totaal en al onderskat en het gelei
tot historiese lae vlakke van die wêreldmielievoorraad. Die lae voorraadvlak kan
selfs aanhou tot en met 2015.
Figuur 3: Kommersiële RSA-mielieproduksie
Bron: Agricultural Market Trends
Die USDA verwag dat skielike verhoging in die produksie van biobrandstof die tradisionele
prysverhouding tussen die belangrikste grane heeltemal gaan verander. 'n Verhoogde
vraag na mielies vir die gebruik van etanolproduksie het die prys van mielies relatief
opgestoot in vergelyking met ander grane en sojabone.
Intussen word Brasilië gesien as die pionier van biobrandstof en maak hulle groot
vooruitgang op dié gebied met behulp van suikerriet. Brasilië is die res van die
wêreld voor wat etanolproduksie betref en beplan om hul etanolproduksie in die volgende
dekade te verdubbel en hul biodieselproduksie ook verder uit te brei.
Daar word verwag dat biobrandstof teen 2010 meer as 30% van die totale mielies in
die wêreld sal opeis. Die verbruik van mielies vir veevoer sal dan teen 'n tempo
van 10% daal met 'n negatiewe impak op hoender- en varkvleisproduksie. Die bogemelde
produkte wat oorbly in die etanolproduksieproses sal egter weer aangewend kan word
as dierevoer. Volgens die Food & Agricultural Policy Research Institute word
voorspel dat Suid-Afrika se mielieproduksie met 1,3 miljoen metrieke ton teen 2016/2017
sal styg.
Tans vertoon die mielieprys op eie bodem goed en verhandel pryse teen 10% hoër as
die vorige jaar. Anders as in die verlede, word goeie oeste en goeie pryse verwag.
Koring
Die prentjie vir koring is meer stabiel. Die potensiaal bestaan dat daar die seisoen
'n groot produksie van koring in die wêreld behoort te wees. Verslae van die
Food and Agricultural Policy Research Institute toon dat Europa hul aanplantings
met tussen 5% en 10% verhoog het. Die verwagting is dat wêreldkoringproduksie en
-verbruik stadig sal styg teen 'n jaarlikse tempo van 0,7% tot 1,2% oor die
volgende 10 jaar. Bykans 80% van alle koring word aangewend vir menslike gebruik.
Die per kapita-verbruik van koring is besig om te daal, terwyl populasiegroei die
totale verbruik hoog hou. Daar word verwag dat koringproduksie vir die volgende
tien jaar redelik hoog sal bly en dat daar nie noemenswaardige groter aanplantings
in die wêreld sal wees nie. Lande soos Indië en China sal, as gevolg van die lae
wêreldvoorraad van koring en die stewige populasiegroei, netto invoerders van koring
word.
Figuur 4 toon Suid-Afrikaanse koringproduksie:
Figuur 4: Suid-Afrikaanse koringproduksie
Bron: Agricultural Market Trends
Die verswakte rand het die gevolg gehad dat koringpryse die afgelope tyd aansienlik
gestyg het. Oor die lang termyn lyk dit of die koringpryse in Suid-Afrika steeds
opwaartse druk sal ervaar. Die redes hiervoor is die swakker wisselkoers, laer wêreldvoorraadvlakke,
die kleiner oppervlaktein Suid-Afrika wat met koring beplant word en die hoë kwaliteitstandaarde
wat opbrengste plaaslik inperk.
Oliesade
Die wêreld-sojaboonproduksie gaan hierdie seisoen aansienlik kleiner uitdraai as
wat aanvanklik voorspel is, met 'n totaal van 218,9 miljoen ton – 18,3 miljoen
ton minder as die vorige seisoen. Biobrandstof het ook 'n effek op die oliesademark.
Die VSA plant aansienlik minder sojabone, wat 'n redelike effek op die sojaboonprys
moet hê. Die vooruitsig vir sojaboonpryse is 'n steeds groeiende prys van bykans
twee persent per jaar. Met die pryse wat tans verwag word, is daar goeie vooruitsigte
vir die boer.
Die sonneblompryse behoort ook aansienlik te styg met 'n groter vraag na kookolies
as gevolg van populasiegroei en 'n groter vraag na kitskos. Daar word voorspel
dat die wêreldvraag na sonneblomolie jaarliks met 0,3% sal styg vir die volgende
paar jaar. Dit behoort opwaartse druk op die sonneblompryse uit te oefen.
Beesvleis
Die totale hoeveelheid beeste wat in Januarie 2008 geslag is, is 19,7% laer as die
drie jaar gemiddeld vir die laaste paar jaar vir dieselfde tydperk. Beesvleispryse
behoort in die eerste kwartaal van 2008 stadig te daal en daarna weer momentum op
te tel.
Daar word verwag dat die wêreldse beesvleisverbruik in die komende jaar met nagenoeg
1,4% tot 1,9% kan styg as gevolg van 'n groter vraag in Asië. Die wêreldbeesvleisprys
behoort nie vreeslik te styg nie, omdat dit reeds 14% hoër is as die gemiddeld van
die laaste 10 jaar. Brasilië behoort weer die plek in te neem van die grootste uitvoerder
van beesvleis nadat hulle hul plek verloor het as gevolg van bek-en-klouseer. Indien
dit wel gebeur, mag daar weer afwaartse druk op beesvleispryse wees.
Volgens die prysinligting van die vorige 27 jaar behoort pryssiklusse onveranderd
te bly. Seisoenale pryse sal steeds die normale siklus toon soos in figuur 4. Wêreldbeesvleispryse
is tans nog baie stabiel. Ten spyte van die daling in die uitvoere van Brasilië
en Argentinië as gevolg van bek-en-klouseer, het die beesvleispryse steeds redelik
normaal verhandel. Argentinië het weer 'n verbod op die uitvoer van beesvleis
geplaas met die doel om inflasie hok te slaan en te beantwoord aan die behoeftes
van hulle armes.
Figuur 5: Beesvleisprysvooruitskattings vir Februarie 2008 tot April 2008
Bron: Agricultural Market Trends
Daar word verwag dat China teen 2015 met die VSA en Brasilië in terme van beesvleisproduksie
sal kan meeding. Beide hul verbruik en produksie styg jaarliks met tot vyf persent.
Invoere na China sal egter steeds styg as gevolg van ‘n sterk groeiende populasie
wat daaruit sal baat.
Skaapvleis
Skaapvleis het weer die teenoorgestelde beweging as beesvleis getoon met 'n
styging in slagtings in Januarie sowel as ‘n prysstyging wat 17,5% hoër is as die
drie jaar-gemiddeld. Die Nieu Seelandse-lamprys het in Januarie met 5,7% afgeneem
en daar word voorspel dat daar in die eerste kwartaal ‘n daling in prys in die Suid-Afrikaanse
mark sal wees. In die eerste 11 maande van 2007 is daar 25 509 ton minder lamsvleis
ingevoer as oor dieselfde tyd in 2006. Die voorspelde styging van skaapvleis word
aangedui in figuur 6.
Figuur 6: Vooruitskatting van lamsvleis vanaf Februarie 2008 tot Maart 2008
Bron: Agricultural Market Trends
Vark en hoender
In Suid-Afrika was varkvleisprysehierdie jaar redelik goed met stygings van meer
as 10%. Die hoeveelheid varke wat in Januarie geslag is, het wel met 4,5% gedaal.
Wêreld-varkvleispryse was redelik laag as gevolg van die ooraanbod in die mark.
Hoenderpryse het met bykans 10% gedaal as gevolg van voëlgriep en in Suid-Afrika
het pryse met bykans 19% in Januarie gedaal. Hoendervleis is steeds die sektor in
die vleismark wat die vinnigste groei en daar word verwag dat pryse oor die volgende
dekade kan styg met tussen 12% en 14%.
Hoendervleispryse sal egter eers redelik daal as gevolg van rentekoerse en inflasie,
en behoort daarna weer te styg bo die drie jaar gemiddeld. Die hoë mieliepryse het
ook 'n opwaartse impak op hoendervleispryse.
Gevolgtrekking
Die huidige seisoen behoort weer 'n belowende een te wees. Met 'n wêreldvoedselvoorraad
wat laag is, is pryse tans gunstig en moet boere die geleenthede benut. Boere se
inkomste kan selfs verder verhoog word deur van nuwe innoverende praktyke gebruik
te maak om veral die verbruikers tevrede te stel.
Baie instansies voorspel hoër pryse vir die volgende tien jaar in die wêreldmarkte.
Die voorspellings is onderhewig aan verskeie onsekerhede naamlik produksiegroei,
klimaatsverandering, weerstoestande, ensovoorts. Vir die graanmark word voorspel
dat daar net twee goeie seisoene in die wêreldmark moet wees om die huidige tekorte
te kan uitwis.
Baie opkomende lande staar groter kompetisie in die gesig. Die voedsel/brandstofdebat
het die probleem van hoër voedselpryse na vore gebring, wat kommerwekkend is vir
ontwikkelende lande wat netto invoerders van voedsel is. Mieliepryse sal nie vir
altyd hoog bly nie, omdat die oppervlak waarop mielies geplant word wêreldwyd groei
en tegnologie wat opbrengste verhoog, steeds daagliks verbeter word.
Die ontwikkeling van "tweede generasie"-biobrandstowwe, naamlik sellulosiese
etanol, wat gebaseer is op die gebruik van hout en gras, is reeds in die pyplyn.
Die skakel tussen olie en die mielieprys kan dit in die toekoms dalk 'n bedreiging
vir die boer inhou.
Met nuwe, groot toetreders tot die wêreldmark, soos China en Indië, is daar meer
moontlikhede vir Suid-Afrika se landbou om te groei. Die geleenthede moet geïdentifiseer
word en onmiddellik aangegryp word. Geleenthede vir verdere verwerking moet veral
aangegryp word, omdat dit tot verdere werkskepping lei.