Techno-Boer
Techno-Boer 2010 aangewys tydens glansryke geleentheid
Die eerste Terratek Techno-Boer is op 1
Oktober 2010 tydens ‘n glansryke geleentheid te Klerksdorp aangewys. Die Terratek
Techno-Boer-kompetisie, wat in 2010 afgeskop
het as oorkoepelende tema van Ons Eie en
waaraan net Terratek-klante kon deelneem, het ‘n reeks artikels in die tydskrif
en ‘n kompetisie waarin ‘n Terratek Techno-Boer
vir die jaar 2010 op grond van die gevorderde tegnologiese metodes wat hy op sy
plaas aanwend aangewys is, behels. Die kompetisie het hoofsaaklik ten doel om boere
wat tegnologies-gevorderde metodes (op alle vlakke en nie net wat die meganiese
sy daarvan betref nie) aanwend om hul boerderye te bestuur deur hul hulpbronne optimaal
aan te wend, maar ook die volhoubaarheid van boerdery op die beskikbare hulpbronne
te verseker.

Die drie finaliste met hul sertifikate en trofee by Suidwes se Voorsitter en die
Bestuurder van Terratek: Van links is Pierre Vercueil (Voorsitter: Suidwes), Richard
Hobson (Terratek Techno-Boer 2010), dr Piet van Wyk (kategoriewenner vir lewendehawe
en algeheel derde plek), IB Oosthuizen (Bestuurder: Terratek) en Vincent Sequeira
(kategoriewenner vir besproeiing en algeheel tweede plek).
Die kriteria waarvolgens die deelnemers geëvalueer is, is soos volg:
Kriteria (onder andere) vir akkerbou – droëland en besproeiing:
- Grondpotensiaal en grondvrugbaarheidsbestuur.
- Operasionele en strategiese benadering (wie speel almal ‘n rol?)
- Aanpassings gemaak rondom die benutting van grondfisiese potensiaal – en die impak
daarvan.
- Aanpassings gemaak rondom grondvrugbaarheid – en die impak daarvan.
- Wat moes gedoen word (volgens aanbevelings), wat is wel gedoen en hoe is dit gedoen.
- Die monitoring van bogemelde (opbrengsveranderinge, verglyking met norme).
- Hoe die resultate van die verlede en die ideaal vir die volgende seisoen geïntegreer
word.
- Meganisasiebeplanning en die implementering daarvan.
- Algemene toepassing van tegnologie.
Kriteria(onder andere) vir veekunde en weidingkunde
- Optimale benutting van weidingspotensiaal.
- Toepassing van weidingkundige beginsels.
- Benuttingspraktyk – hoe en hoekom – wat wil daarmee bereik word.
- Operasionele en strategiese benadering (wie speel almal ‘n rol?)
- Aanpassings gemaak rondom kampuitlegte, skeiding van veldtipes, ensovoorts.
- Wat moes gedoen word (aanbevelings), wat is wel gedoen en hoe is dit gedoen.
- Impak daarvan op kilogram vleis per hektaar geproduseer, kilogram vleis per millimeter
reën, marge per hektaar ensovoorts.
- Die monitoring van bogemelde (opbrengsveranderinge, verglyking met norme)
- Algemene toepassing van tegnologie hier van toepassing.
Kriteria vir landbou-ekonomiese en finansiële aspekte:
- Is / word lewensvatbaarheids- en volhoubaarheidsanalises gedoen.
- Die toepassing van hierdie analises in die praktyk.
- Finansiële aspekte.
Die sewe finaliste wat deurgedring het na die eindrondte toe was: Richard Hobson
van Nonen Ranch naby Setlagoli, Vincent Sequeira van Greenway Farms naby Tarlton,
dr Piet van Wyk van Bloemskraal naby Ventersburg, Rudolph Burger (Burger Broers)
naby Jan Kempdorp, Gert Cilliers van Gemsbokpan naby Stella, Francios Geldenhuys
van Plezier naby Stella en Kobus van Zyl van Doornfontein naby Leeudoringstad.
Op Vrydag, 1 Oktober is drie wenners vir die kategorieë droëlandproduksie, besproeiing
en lewendehaweproduksie uit die sewe finaliste aangewys. Richard Hobson van die
Setlagoli-distrik is uiteindelik as die Terratek Techno-Boer 2010 aangewys, wat
hom die wenner van ‘n Australiese toer vir twee (twee weke) maak. Vincent Sequeira
van Greenway Farms (besproei-ingskategoriewenner) in die Tarlton-distrik het die
tweede prys, ‘n wegbreek vir twee na die Victoria-watervalle gewen en dr Piet van
Wyk van die Ventersburg-distrik (lewendehaweproduksiekategorie-wenner) het ‘n naweek
vir twee by ‘n luukse game lodge gewen. Die pryse sal in samewerking met elke deelnemer
uitgewerk word om hul spesifieke omstandighede te pas.
Richard Hobson, Terratek se Techno-Boer vir 2010, bedryf op sy plaas, Nonen Ranch,
‘n gemengde boerdery met akkerbou- en lewendehawevertakkings. In die akkerbouvertakking
verbou hy mielies, wat omtrent 80 persent van sy graanportefeulje uitmaak, graansorghum
(15 persent) en grondbone (vyf persent) en sy lewendehawevertakking bestaan hoofsaaklik
uit ‘n osstelsel. ’n Spogsyfer van 11,67 kilogram mielies per millimeter reën word
op hierdie gronde sonder watertafels behaal; wat uitsonderlik goed is indien die
omgewing se beperkings ten opsigte van grond, reënval en reënvalverspreiding in
ag geneem word. Dié syfer is ’n aanduiding van die doeltreffendheid waarmee reën-water
na bemarkbare graan omgeskakel word.

Terratek Techno-Boer 2010, Richard Hobson, bedank Terratek, sy pa, sy vrou, Paula,
sy Skepper en almal betrokke by die kompetisie vir die geleentheid, hul ondersteuning
en die voorreg om tot op hierdie vlak te kon vorder en presteer.
Richard maak in al sy vertakkings van tegnologie gebruik om te verseker dat hy sy
hulpbronne naamlik grond en water optimaal benut. Daarvoor maak hy hoofsaaklik van
Terratek se kundiges gebruik. Die kampe met die aangeplante weiding was te groot
en is deur Terratek herbeplan. Veldopnames het ook plant- en grasspesies, bosindringing
en die grondvoedingstofstatus van die aangeplante weiding in ag geneem. Nou kan
meer beeste aangehou word te danke aan ‘n meer effektiewe benutting van beskikbare
produksie. Presisie-boerdery is egter nie net die regstelling van die grondbalans
en kampstelsels by lewendehawe nie. Dit setel ook binne die meganisasie-opset, bewerkingspraktyke,
grond- en vogbenutting. “Dit is ’n kwessie van wat jy kry en wat jy daarmee uitrig,”
sê hy.
Volgens die beoordelaars, Johan Norval (Landbouweekblad), Aubrey Marais (Eerste
Nasionale Bank) en IB Oosthuizen (Bestuurder: Terratek) was die resultate van die
sewe finaliste baie naby aan mekaar en was elkeen ‘n wenner in eie reg. Dit is net
weereens ‘n bevestiging van die hoë vlak waarop Suid-Afrikaanse boere hul boerderye
bedryf. Ons boere is op hoogte met die nuutste tegnologiese ontwikkeling en pas
dit effektief in hul boerderye toe – en sodoende lewer hulle ‘n ongelooflike groot
bydrae tot voedselsekerheid in Suidelike Afrika en tot die bevordering van gevorderde
wetenskaplike metodes in boerdery in die algemeen – veral in ag genome uitdagings
soos die droë klimaat en hitte en ander realiteite wat hulle moet oorkom. Hulle
is elkeen vir Suidwes ‘n boer van eerste keuse!